Magnetiese deklinasie

Magnetiese afwyking. Ng is hier die ware (geografiese) noord, Nm is die magnetiese noord.
Deklinasie of afwyking van die kompas tussen 1590 en 1990

Die magnetiese deklinasie of magnetiese afwyking van 'n kompas word veroorsaak omdat die geografiese pole en die geomagnetiese pole 'n sekere afstand weg van mekaar geleë is. Die geografiese noordpool, die ware noord die draai-as van die aarde is sinoniem; die geomagnetiese noorde (of, magnetiese noordpool) wissel na gelang van die magnetiese veld van die aarde.[1]

Die aarde is nie 'n beweginglose massa nie. Die aardkern bestaan uit magma wat onder hoë druk verkeer en waarin elektriese strominge voorkom. Die aarde reageer dus soos 'n magneet op sigself. Hierdie denkbeeldige as val nie saam met die ware noord en ware suid nie. Die kompasnaald sal dus nie in dieselfde rigting wys as die lengtelyne nie, maar effens weg daarvan wys. Hierdie hoekafwyking staan dan bekend as die magnetiese deklinasie of magnetiese afwyking. Hierdie magnetiese pole is nie staties nie, maar verskuif voortdurend. Die verskuiwing is van jaar tot jaar gering, maar die feit bly staan: daar kan nooit 'n vaste ligging wees soos met die ware noord en ware suid nie.[1]

Gebruik mens 'n kompas om jou rigting te oriënteer, moet jy die verskil tussen die kompasrigting (magnetiese noord) en die ware noorde in gedagte hou. Hierdie verskil, genaamd die magnetiese deklinasie, is nie orals dieselfde nie; dit hang af waar op die aarde jy jou bevind, en in watter jaartal jy jou bevind.[1]

Byvoorbeeld:[1]

Magnetiese afwyking na gelang van stad en jaar
Jaar Kaapstad Pretoria
1970 23º04' wes van die ware noord 15º40' wes van die ware noord
2000 23º19' wes van die ware noord 16º13' wes van die ware noord

Soos gesien kan word, kry die deklinasie of afwyking sy eie waarde en eie teken. In die navigasie word daar nie 'n + of - teken gebruik nie, maar die aanduider O (oos) of E (east) vir die "plusteken" en die aanduider W (wes) vir die "minusteken". Die waarde vind mens gewoonlik op die kaart self, by die kompasroos en kaartsimbole wat as "konvensionele tekens" bekend staan.

'n Mens kry byvoorbeeld die volgende bewoording op 'n kaart uit die jaar 2000 in die Nelspruitomgewing, soos aangedui op 'n 1:50 000-topografiese kaart (2530 NELSPRUIT):[1]

Gemiddelde magnetiese deklinasie 15º,2 Wes van
Ware Noorde (1986.0). Gemiddelde jaarlikse
verandering 3' Weswaarts (1980-1985).

By navraag was dieselfde kaart in die jaar 2000 se gemiddelde magnetiese deklinasie 16º28' Wes van die ware noord, met 'n gemiddelde jaarlikse verandering 4,4' Weswaarts.[1]

Die Magnetiese Observatorium op Hermanus, wat ressorteer onder die WNNR, verskaf die magnetiese inligting wat op Suid-Afrika betrekking het.[1]

Die geofisici (en ook die kartograwe) werk nie met die jaarlikse veranderinge nie, maar bereken 'n gemiddelde verandering oor drie- tot vyfjaarperiodes, wat dan op die kaart aangebring word.[1]

In Suid-Afrika kry mens byvoorbeeld 1985 tot 1990; 1991 tot 1995; 1996 tot 2000 of 1987 tot 1990, ens. Die kort periodes verseker dat die gemiddelde verandering op 'n kaart redelik akkuraat bly vir daardie tydperk en dit is nie nodig vir die kaartleser om vir daardie tydperk (wat op die kaart staan) 'n jaarlikse berekening te maak nie. Die bordjies word verhang wanneer die jaartal op die kaart "verstryk" het as mens na die huidige jaar op jou kombuiskalender kyk.[1]

As mens dus die rigtingshoek op die "ou" kaart wil meet, en die jaar wat op die kaart aangedui word is 1984, dan moet die leser in die jaar 2024 eers die verandering van die magnetiese deklinasie sedert 1984 bereken.[1] Of, die Observatorium kan geskakel word.

Wat Suid-Afrika betref, is daar 'n paar puntjies wat belangrik is:

  • Die magnetiese deklinasie was min of meer nul oor Suid-Afrika in 1620. Daarna het die afwyking van die kompasnaald na wes van die ware noord toegeneem. Hierdie stadige veranderinge staan as sekulêre veranderinge bekend ("sekulêr" is hier die vervorming van die Latynse woord saeculum, wat "eeu" beteken).[2]
  • In Suid-Afrika is die magnetiese afwyking orals nou wes van die ware noord. Dit kan egter in ander wêrelddele verskil: die afwyking kan weswaarts of ooswaarts wees.[1]
  • Die magnetiese afwyking verskil na gelang van plek, en verander voortdurend.[1]
  • Is die verandering ooswaarts, word die magnetiese afwyking kleiner; is dit weswaarts, word die magnetiese afwyking groter.[1]
  1. 1,00 1,01 1,02 1,03 1,04 1,05 1,06 1,07 1,08 1,09 1,10 1,11 1,12 Liebenberg, E. & Vlok, C. 2006 (2000). Die interpretasie van kaarte, lugfoto's en satellietbeelde. Studiegids 1 vir GGH203-V (tweedejaarsmodule). Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika. pp. 29-30, 106-107.
  2. WAT, s.v. "sekulêr"

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search